Stay safe online. Now more than ever it’s important to be cybersafe. See our tips to help you stay safe online. Learn more
Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Sanlam Investments
Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Waar sekere familielede voor die wettige eienaar se dood by daardie persoon gebly het en huisverbeterings uit hul eie sak laat aanbring het, raak die scenario selfs nog meer ingewikkeld.

“Indien die eienaar sonder ’n testament sterf, sal familielede wat voorheen elders gewoon het ’n wettige aanspraak op die huis hê en kan intrek. Dit beteken enige huisverbeterings wat moontlik aangebring is deur ’n pligsgetroue kind wat teen die einde by die ouer gebly het, en wat waarde tot die eiendom kon toevoeg, nie in ag geneem sal word nie. Trouens, die kind sal moontlik nie eens op direkte vergoeding geregtig wees nie," voeg Thomson by.

Hy sê enigiemand wat by ’n bejaarde familielid in ’n huis bly en meen hulle is geregtig om te erf, moet dit bespreek terwyl die eienaar van die eiendom nog leef. “Dit is nooit raadsaam om te aanvaar u sal vir u toewyding beloon word nie. Ongelukkig maak die wet nie voorsiening dat weldade beloon word nie. U kan dus nie aanvaar dat u ná ’n ouer familielid se dood outomaties vergoed sal word omdat u jare van u lewe daaraan gewy het om die familielid te verpleeg, of omdat u ’n nuwe geiser laat installeer het toe dit nodig was nie.”

Thomson stel die volgende wenke voor om almal tot ’n gelukkige uitkoms aan te spoor:

Hou eerlike gesprekke

’n Goeie eerste stap – en dis nooit te laat daarvoor nie – is om eerlike familiegesprekke te hê. Elke familielid moet min of meer weet wat die ander dink. Dit is uiteindelik die huiseienaar se besluit aan wie hy/sy die huis wil nalaat. As u in die huis bly en glo dit moet eendag u s’n word, sê dit – en kyk wat die reaksie is. Dit gebeur baie dikwels dat ouers hul boedels gelykop wil verdeel tussen familielede, en u kan miskien bitter teleurgesteld wees.

Maak seker daar is ’n testament

Hoewel dit miskien onnodig klink om ’n testament op te stel vir iemand wat nie groot bedrae geld het nie, kan ’n testament almal jare lange angs en spanning spaar. ’n Testament wat met professionele hulp opgestel is, sal presies uiteensit hoe die boedel verdeel moet word, sodat daar nie later verrassings is nie. Dit sal nie net ’n enorme administratiewe las uitskakel nie – die afhandeling van ’n boedel sonder ’n geldige testament kan ’n uitgerekte proses wees wat jare lank duur – maar kan ook ’n potensiële familietwis en hartseer voorkom.

Laat die huis op u naam oordra voordat die eienaar sterf

Indien u beslis aanspraak kan maak op die huis waarin u woon en daar geen dispuut is nie – byvoorbeeld as u die enigste kind is – kan u dit oorweeg om die huis op u naam te laat registreer voordat die eienaar sterf. Die eienaar kan die huis in werklikheid aan u skenk sonder dat geld hande wissel. Daar sal wel skenkingsbelasting betaalbaar wees, maar dit is die moeite werd om hierdie uitweg te oorweeg, om later komplikasies te vermy.

Kry skriftelike toestemming van die huiseienaar om opgraderings te doen

Indien u in die huis bly en vir die opgraderings betaal, moet u die eienaar om skriftelike toestemming vra. Dit sal u in staat stel om na die eienaar se dood teen die boedel te eis vir die opgraderings, mits u ’n rekord gehou het van die uitgawes.

Dit geld nie net vir potensiële erfgename nie, maar ook vir langtermyn-huurders. “Huurders kan hulself in ’n soortgelyke situasie bevind as hulle byvoorbeeld diefwering aanbring in ’n woonstel wat hulle huur. In hierdie geval moet hulle die eienaar se skriftelike toestemming kry en laat aanteken dat hulle op vergoeding vir hierdie verbetering geregtig is. Daarsonder sal hulle nie vergoed word nie. Die beste is altyd om die verhuurder vir verbeterings te laat betaal, aangesien dit die verhuurder se eiendom bly. Laat al die nodige opgraderings as ’n klousule in u huurooreenkoms insluit voordat u dit onderteken.”

Thomson sê selfs al doen u alles reg, kan u nog steeds benadeel word as u in ’n huis belê maar nie heeltemal seker is dat u alleeneienaarskap of vergoeding sal kry nie. “Baie dikwels is die beste wat u kan doen, om eienaarskap van ’n eiendom te probeer kry waar daar nie grys gebiede is nie en waar u seker kan wees dat u die finansiële beloning sal kry op die beleggings wat aangegaan is. Dit sal u in staat stel om u geldsake apart te hou van die res van u familie s’n. Te oordeel na die talle gevalle waar ’n familietwis oor geld ontstaan, is dit waarskynlik die beste scenario vir almal!”

Contact Us

Please complete the following information.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam